Helpende Hand gee toekenning aan een van die land se veelsydigste kunstenaars

 Die Solidariteit Helpende Hand het ʼn spesiale toekenning aan Cornelia Holm, een van die land se voorste en veelsydigste kunstenaars, oorhandig.
 
Cornelia Holm is bekend vir haar skilderwerk, beeldhoukuns, digkuns en haar musiektalent. Sy is ʼn inwoner van Orania en verantwoordelik vir baie van die openbare kuns in die dorp. Sy is ook die beeldhouer van Orania se bekende Klein Reus.


 
Die toekenning is gemaak op haar 80ste verjaarsdag en by die geleentheid is haar digbundel, Grein, ook bekend gestel. Die geleentheid is deur Solidariteit Helpende Hand en die Huppelkind Dagsorgsentrum aangebied.
Antoinette Deysel, adjunkhoof van Solidariteit Helpende Hand sê die toekenning gee erkenning aan Holm maar ook aan alle ouer mense wat aktief betrokke by hulle gemeenskap bly.

“Tannie Cornelia is ʼn gemeenskapmens in murg en been en op 80-jarige ouderdom is sy steeds aktief in die gemeenskap en deel sy haar gawes met ander deur ʼn splinternuwe digbundel die lig te laat sien het. Ons vertrou dat hierdie toekenning ouer mense sal inspireer om by hulle gemeenskap betrokke te wees en hulle gawes met ander te deel, ongeag hulle ouderdom. Tannie Cornelia werk steeds tot heil van die Orania-gemeenskap, en alle ouer mense se betrokkenheid sal tot heil van hulle gemeenskappe wees.
 
Esna de Beer, skoolhoof van Huppelkind, sê Holm is lief vir kinders. “Sy het nie haar talente vir haarself gehou nie, maar het dit met kinders gedeel. Sy het die Huppelkind-beeld gemaak en illustrasies vir stories en ons waardeprogram geteken. Sy het haar talente onbaatsugtig in diens van kinders gestel.
 
Van Holm se skilderye is tydens die geleentheid verkoop en die opbrengs is aan Huppelkind geskenk.

Helpende Hand wil met die toekenning ook ʼn beroep op alle ouer mense doen om in hulle gemeenskappe betrokke te bly.

Die Klein Reus is een van Cornelia Holm se bekendste skeppings.

Leave a Reply

Your email address will not be published.