Vyf vrae aan orania se nuwe burgemeester

Lida Strydom is die afgelope as Orania se nuwe burgemeester aangewys. Die Oraniër het vyf vrae aan Orania se eie kaalvoetvrou gestel.

1. Hoe sien jy Orania se plek in die groter Afrikanerlandskap?

Demografie is die bepalende faktor vir oorlewing van Afrikaners. Orania se bestaan word onderlê deur deeglike navorsing en vaste beginsels, daarom dat dit reeds dekades lank staande gebly het, selfs toe dit belaglik gemaak is. Dit blyk al hoe meer die antwoord te wees, nie net vir Afrikaners nie, maar vir gemeenskappe dwarsoor die wêreld wat sukkel om staande te bly weens die verswelgende liberalisme van ons tyd. Oplossings wat nie die demografie van die omgewing in aanmerking neem nie, sal nie oorleef nie.

Terselfdertyd is dit belangrik om te besef dat Orania nog baie klein is en dat ons al die vriende nodig het wat ons kan kry. Daarom is opregte verhoudinge met alle ander rolspelers belangrik en is dit iets waaraan Orania deeglik moet aandag gee. Ons moet mekaar kan ondersteun en by mekaar kan leer. Opregte en eerlike kommunikasie moet ons verhoudings kenmerk.

Hoe ek ook al na die ander oplossings kyk, lyk dit vir my logies dat die uiteindelike antwoord konsentrasie in ‘n eie gebied is met eie arbeid, eie instellings en eie grond. En dan lei alle paaie uiteindelik maar na Orania.

2. Orania se strategie om van dorp tot stad en uiteindelik streeksrolspeler te ontwikkel is onlangs bekendgestel. Wat sal die Dorpsraad se rol in daardie strategie wees?

Orania Dorpsraad is een van verskeie rolspelers. Die streekstrategie is ‘n volgende mikpunt vir vryheid van Afrikaners in ‘n groter gebied. Ons sou graag wou sien dat die beginsels waarop Orania gebou is lewenskragtig bly. Dit sal belangrik wees om deur onderhandeling en gesprek die koers te help bepaal, inaggenome die verskillende betrokkenes. Om met alle betrokkenes verhoudings te bou bly die belangrikste eerste treë. Ons sal deur ons verskillende instellings in Orania daaraan moet aandag gee.

Meer prakties gesproke het Orania Dorpsraad uitstekende vaardighede ten opsigte van beplanning van woongebiede/stedelike ontwikkeling en beskik oor die tegniese vaardighede om dit ‘n werklikheid te maak. Ons sal dus ‘n bydrae kan lewer tot professionele en ordelike ontwikkeling waarin Afrikaners sal tuisvoel.

3. Wat is die een ding wat Oraniërs, na jou mening, nie as vanselfsprekend moet neem nie?

Oraniërs is nie vanselfsprekend eensgesind oor sake nie. Daar is baie verskillende menings oor sake, neem maar die debatte oor die stad teenoor ‘n volkstaat. Of ‘n volkstaat teenoor ‘n republiek, óf ons ‘n plein moet hê met ‘n Paul Kruger-standbeeld óf nie. Óf ons toegangsbeheer moet hê óf nie. Óf ons ‘n battery moet aankoop vir Orasol óf nie.

Ons mense het verskillende menings en daar is verskillende redes daarvoor. As mense is ons maar almal verwond en wil ons soms ten koste van die saak ons eie wil laat geld. Hiervoor moet ons begrip en deernis hê, anders kan dit ons totaal kelder.

Om ‘n verskeidenheid van menings te hê is egter gesond en ons verwelkom dit. Dan moet ons egter eerlik daaroor kan debatteer, want dan kan ons deur konsensus by die beste oplossing kom.

Met genade het ons dit oor die afgelope 32 jaar reggekry om tog ‘n groot mate van eensgesindheid te kry oor belangrike sake. Met die groeiende inwonertal sal dit belangrik wees om voldoende aandag hieraan te gee.

4. Jy was aan die stuur van projekte wat tot die oprigting van onder meer die Koeksistermonument gelei het. Beplan jy soortgelyke projekte?

Tot frustrasie van my gesin is my kop altyd vol projekte! Ek sien soveel wonderlike dinge in my geestesoog in Orania en as die gemeenskap deelneem kan ons só baie bereik. Ons kan ‘n lieflike stad bou met die dinge wat ons graag daarin wil hê en waarvoor die Dorpsraad nie altyd die fondse het nie.

Projekte is ‘n vonk wat lewe gee aan ‘n gemeenskap. Dit kry mense aan die gang, dit laat hulle saamdink en -doen. Hulle kan hulle gawes benut en hulle neem verantwoordelikheid. Dit laat hulle uitsien na die toekoms want hulle het ‘n stukkie van hulleself belê in die gemeenskap.

Daar is ‘n rits goed waaraan ek dink, maar op die oomblik voel ek dat dit belangrik sal wees om ‘n projek saam met kinders aan te pak. Ek sal graag wil hê dat hulle die krag van ‘n gemeenskaplike projek moet ervaar en dat hulle daardeur sal leer dat húlle Orania is.

5. Wat wil jy graag hê moet jou nalatenskap wees aan die einde van jou tyd as burgemeester?

Dit is ‘n vraag wat ‘n mens diep laat dink. Uiteindelik moet ek hier my eie beperkinge en sterk punte in aanmerking neem. Wat ek met Kaalvoet bereik het, is om mense bymekaar te bring en hulle dan te laat doen waarmee hulle goed is. Soms het hulle dit nie vooraf besef nie. Dit is wonderlik om mense so te sien deelneem en groei.

Dit is iets wat ek graag sal wil sien: dat Orania die ruimte is waar Oraniërs van hulleself kan gee tot voordeel van almal.

Maar die belangrikste is uiteindelik dat ons almal die knie sal buig voor die Allerhoogste. Dat ons sal verstaan Hy vir ons hierdie tyd en plek gee om sy wil te doen. En dat ons dan daarna sal strewe om dít elke dag te doen.

5 comments

  1. Goeie Naand Lida

    Dit was aangenaam om die antwoorde op die vrae te lees.

    Dit is ‘n groot taak wat op u wag. Ek vertrou dat u van krag tot krag sal gaan.

    Baie sterkte, maar ook geniet elke oomblik daarvan.

    Beste groete
    Deon

  2. Ek wens jou Gods seën in jou werk. Ek en my vrou Marianne het op 16 desember 2022 Orania besoek. Joost Strydam ontmoet en gebly by Jaco Kleynhans. Ek volg die ontwikkelinge in Orania en wil graag nog een keer kom. Gaan goed met julle! Groete van Aart van Wijk uit Nederland.

Leave a Reply

Your email address will not be published.