Braille wen teen Brits by Buffelsfontein

Die gewilde restaurant, Buffelsfontein Beesboerdery, spog met `n splinternuwe spyskaart – in braille.

Volgens die algemene bestuurder by Buffelsfontein Beesboerdery, Ichnus Wait, wil hulle op die manier verseker dat kliënte wat siggestremd is `n groter mate van selfstandigheid beleef wanneer hulle die restaurant besoek.

Met die tong stewig in die kies vertel hy dat hulle besorg is dat die persoon wat die spyskaart aan `n blinde kliënt voorlees dalk meer klem op die slaaie kon plaas eerder as om oor die wye reeks vleisgeregte uit te wei.

Die spyskaart is opgestel met die hulp van Prinshof Skool vir leerlinge met n siggestremdheid. Dit is hulle derde druk vann spyskaart in braille.

Volgens Wait het die personeel besluit om meer opsies as hulle standaard Afrikaanse spyskaart aan kliënte beskikbaar te stel en moes kies tussen Engels en braille. Laasgenoemde het loshande gewen.

Indien jy jouself in Pretoria bevind met `n paar Ora’s kan jy gerus by Buffelsfontein aanmeld. Hulle aanvaar dit met graagte.

Leave a Reply

Your email address will not be published.