Die Afrikaanse Taalmonument en Orania – wat het dit vir mekaar te sê?

Dit is lank gelede wat ’n Afrikaanse kultuursaak laas soveel opslae gemaak het as wat verlede week met die Taalmonument gebeur het. ’n Oraniër kan wonder of dit iets met ons te doen het, of is dit maar ’n agterhoedegeveg? Is dit maar iets vir mense wat nog nie die toekoms raakgesien het nie?

In ’n interessante samevloei van omstandighede was dit dieselfde week waarin die televisieprogram Voetspore vir sy bevooroordeelde hantering van Orania onder skoot gekom het. Nog nooit het ek beleef dat Orania deur soveel mense uit uiteenlopende oorde verdedig word nie.

Wat het dit met mekaar te doen, behalwe dat dit in dieselfde week gebeur het? Ek reken alles.

Vir Orania om eers die vlagdraer – en later die gestalte – vir Afrikanervryheid te word, moet Afrikaners oor ’n breë spektrum kans sien om Orania te ondersteun. ’n Projek soos Orania baat nie net by ondersteuning nie, maar ook by ’n gebrek aan teenstand.

My ervaring is dat Afrikaners Orania makliker ondersteun as dit nie beteken dat hulle “die stof van Suid-Afrika hulle voete moet afskud” nie. Die feit is dat Afrikaners nie net finansieel nie, maar ook emosioneel verbonde is aan plekke regoor die land.

Wanneer iemand voel dat, Orania en iets soos die Taalmonument ’n keuse verg, verloor mens vinnig belangstelling. Dit is belangrik, want steun vir Orania groei in trappies: Eers ’n besoek aan die webwerf; dan ’n deurry; dan oorslaap; dan vakansie; en later verhuising.

Op enige van hierdie trappies kan die potensiële Oraniër iets beleef wat hom of haar glad nie aanstaan nie. Dit kan so iemand jare neem om weer belang te stel – of dalk nooit! Dit beteken nie Orania moet heeldag vir ander sit en grimering opsit nie, maar dat ondersteuning nie moeilik hóéf te wees nie.

Daar is nog redes, wat meer wesenlik is as steunwerwing.

Orania is ’n deel van die lang pad van Afrikanergeskiedenis. Die gedagte van ’n “nuwe begin” is mooi, as dit daarop sinspeel dat sekere aspekte van die volkslewe opnuut bedink moet word. Maar as dit beteken om as’t ware jou verlede te vergeet en van voor of te begin, is dit uiters verarmend.

Die pad van Afrikanerskap loop deur bakens in die Skiereiland, die Boland, die Swartland, Namakwaland, die Oosgrens, die Republiek van Natalia, Vrystaat en die hele al die streke van die ou Transvaal. Alles is nie polities of militêr van aard nie, sommige is hartseer, roerend of selfs amusant.

Die feit dat die eerste optekening van bewuste Afrikanerskap ’n beskonke jongman was wat hom nie in hegtenis wou laat neem nie, is nogal amusant. Die “Agt jollie kêrels” wat volgens Randall Wicomb se liedjie sorg vir Afrikaans, was self jonk – en mag ek sê bietjie windgat.

Boegoeberg se dam, waar Afrikaners armoede kon oorwin, is net so belangrik vir ons volkstryd as Bloedrivier, waar ons ’n meer tasbare vyand moes oorwin. Universiteite was die plekke waar ons leiers geslyp is; net soos slagvelde en trekgeselskappe dit was.

Afrikaans as taal is merkwaardig. Nie oor hoe dit klink of waar dit vandaan kom nie, maar oor die erkenning wat dit kon afdwing. Oral ter wêreld vind mens interessante variasies op erkende tale, maar gewoonlik sou net taalkundiges belangstel. Dit is soms ook ’n hindernis vir sosiale mobiliteit.

As die Paarlse taalbeweging nie op die belang van Afrikaans, teenoor Nederlands aan die een kant en Engels aan die ander kant, aangedring het nie, was Afrikaners vandag agtergeblewenes. Ons sou die wêreld ook deur medium van ’n ander taal moes betree en bemeester – en dit is nogal moeilik.

Die bakens, of kan ek sê voetspore, van Afrikanerskap is oral in Suid-Afrika. Ons gaan nie weer oor al daardie bakens regeer nie, maar dit bly kosbaar. Ook waar ons in Orania aan ’n nuwe, vrye toekoms bou, gee daardie bakens aan ons rigting.

Vir hulle behoud mag ons maar veg!

Dr Wynand Boshoff is `n parlementslid vir die Vryheidsfront Plus en die party se provinsiale leier in die Noord-Kaap. Hy woon saam met sy gesin op Orania.

Die Afrikaanse Taalmonument

Leave a Reply

Your email address will not be published.