Bouwerk begin aan 62 bekostigbare gesinshuise in Orania

Orania sal eersdaags met 62 splinternuwe gesinshuise kan spog nadat bouwerk Vrydag amptelik begin het.

Johan Nel, voorsitter van die direksie van Gouwsblomontwikkeling, sê dié geskiedkundige gebeurtenis is ʼn gesamentlike poging wat deur Solidariteit Helpende Hand, die Orania Beweging Helpsaamfonds en Gousblomontwikkeling gedryf word.

“Helpende Hand en die Helpsaamfonds het verlede jaar ʼn behoeftebepaling in die gebied gedoen wat ʼn duidelike tekort aan ekonomiese behuising vir jong gesinne getoon het. Daar is tans voldoende eenslaapkamerverblyf vir mans en vroue asook tweeslaapkamerbehuising, maar nêrens groter plekke vir jong gesinne met twee of meer kinders nie,” sê Nel.

Die ontwikkeling, van nagenoeg R45 miljoen fokus op bekostigbare gesinsbehuising en bestaan uit 62 drieslaapkamereenhede. Die huise gaan in die nuwe buurt, Olienhout, in die Kleingeluk-omgewing gebou word. Dit is binne loopafstand van die Orania CVO-skool.

Altesaam 58 huise is dubbelverdiepings met twee slaapkamers aan die bokant. Onder is nog ʼn slaapkamer, ʼn kombuis en leefareas. Elke huis het een en ʼn halwe badkamer asook sy eie private tuin en buitearea met ʼn ingeboude braai. Vier van die eenhede het slegs ’n grondvlak en is geskik vir persone met gestremdhede.

“ʼn Plaaslike argitek van Orania het die behuising ontwerp. Dit is só beplan dat elke gesin deel van gemeenskap kan wees maar terselfdertyd privaatheid kan hê in die tuin waar die gesin gesellig kan kuier en braai. Daar is lekker leefruimte. Daar is ook wandelpaaie en groen stroke wat inskakel by die gemeenskaplike park wat reeds bestaan.”

Die behuising is veral gemik op jong gesinne wat nog nie ’n eiendom kan bekostig nie en besig is om daarvoor te spaar. Die eenhede sal deur Gousblom verhuur word. Die huurpryse word nog vasgestel.

As alles volgens plan verloop, behoort daar teen die einde van die jaar ses eenhede gereed te wees vir okkupasie. Die res van die ontwikkeling behoort oor drie jaar klaar te wees.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is dit vir Helpende Hand ʼn voorreg om deel te wees van waarskynlik een van dié instansie se grootste projekte ooit.

“Helpende Hand fokus op gemeenskapsontwikkeling en uiteraard val hierdie projek binne ons fokus en weerspieël ons visie en missie. Dit is vir ons belangrik dat inwoners van Orania in ʼn gesonde maatskaplike omgewing kan woon en leef. Vir Helpende Hand lê die waarde van die projek in die skep van ’n leefruimte met stabiliteit en sekerheid in ʼn veranderende wêreld. Die projek bring gemeenskapsverandering teweeg deur ʼn volhoubare verskil in gesinne se lewens te maak,” sê Noëth.

Noëth sê met hierdie projek wys Helpende Hand hy bou graag saam aan die toekoms en beweeg doelgerig en volhoubaar vorentoe.

Hier is kunstenaarsvoorstellings van die projek:

3 comments

  1. SO trots op ORANIA en sy mense en die ontwikkeling wat daar plaasvind. Wil graag binnekort besoek.

  2. Goeie dag. Ek wil asb meer informasie vra ivbm behuising vir dame, parapleeg en haar moeder. Dankie en seen

  3. Безопасность криптовалютных кошельков – важная тема. [url=https://tradepulse.ru/info/vse-chto-vam-nuzhno-znat-o-koshelkah-dlya-kriptovalyut/]Ознакомьтесь с важной информацией о них[/url] на нашем сайте.

Leave a Reply

Your email address will not be published.