DR DASSIE: LAAT NIE JOU VOETSPORE AGTER

Dr Dassie het ongelukkig nie meer `n televisie nie. Nie sedert ek daai keer per abuis `n koffiebeker na my vorige een geslinger het toe `n sekere  eNCA-aanbieder my probeer wysmaak het waaroor Orania gaan nie.

So het dit dus gebeur dat dr Dassie die hele debakel met die program ‘Voetspore’ misgeloop het. Blykbaar is daar `n ou met die naam Johan Badenhorst en hy hou vakansie met ander ouens se geld, plak dan hulle logo’s op sy bakkie en verfilm dit. Soos dr Dassie verstaan is van die programme nogal heel vermaaklik met interessante bestemmings wat besoek word. Soos ook Orania. Ongelukkig het Johan toe besluit om met sy besoek aan Orania enige moontlike indruk dat hy onpartydig teenoor die gemeenskap staan summier in die kiem te smoor.

Dr Dassie het die episode saam met `n vriend op sy DStv Kêtchup gekyk. Dis nou nie Ingels vir tamatiesous nie maar `n fênsie woord vir goed wat reeds uitgesaai is. Wat dr Dassie die meeste van Johan se bemestingswaardige uitlatings gepla het is dat hy reken dat die inwoners van Orania te arm is om in Australië te bly. As hy maar net weet hoeveel Oraniërs oor die laaste paar jare hulle oorsese tuistes gegroet het om in Orania te kom nes skrop. Nie dat dr Dassie reken Johan is iemand wat hom vreeslik aan feite steur nie.

Soos dr Dassie in die laerskool geleer het: Moenie jou papiere, koeldrankblikkies en ander gemors op die skoolterrein los nie. Laat net jou voetspore agter. So wil dr Dassie daai ou gesegde vir Johan aanpas en hom vra om maar sy ‘Voetspore’ ook saam te neem. 

Dr Dassie is ’n onafhanklike rubriekskrywer en sy opinies weerspieël nie dié van Die Oraniër nie. Daar is ook geen sekerheid of dr Dassie wel oor ’n doktorsgraad beskik nie. Dit is Die Oraniër se amptelike standpunt dat geen mediese advies van hom aanvaar kan word nie.

2 comments

  1. Ek stem so saam met Dassie,en ek was nog nooit in my hele lewe so geskok in enigiemand soos in Johan Badenhorst nie. Kan nie glo dat hy ons al die jare so mislei het en ek soveel geld op sy programme spandeer het nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.