Neem ‘n diep teug asem voor jy verder lees.
Dink jouself ‘n vrugbare en ryk land in, vol natuurlike hulpbronne en diep goudmyne. Die mense myn hierdie land se goud en plant groot oeste in die vrugbare grond. Daar is egter ‘n probleem: lugbesoedeling.
Die lug is so vuil dat daar elke dag minder en minder suurstof is vir die mense van die land. Dag na dag word die beskikbare suurstof minder en die mense en industrieë wat suurstof nodig het meer.
Dit was egter nie altyd so nie, lank lank gelede was daar ‘n groep ingenieurs wat die groot lugsuiweringsapparate in stand gehou het. Hulle het slim planne gemaak en dan vir die werkers opdrag gegee oor hoe om die apparate in stand te hou, uit te brei en nuwes te ontwikkel.
Die groot masjiene wat hulle gebou het was so doeltreffend dat die suiwer lug voorraad elke dag gegroei het en meer en meer geword het. Die werkers het egter ongelukkiger en ongelukkiger geraak. Dit was onregverdig dat hulle al die werk moes doen en die ingenieurs net planne kon maak!
Geregtigheid moes geskied. Die werkers het hulle eie leierskap verkies, die Alwetende Nasionale Smoorparty (ANS). Die ANS het baie mooi beloftes gemaak: almal kan nou ingenieurswese studeer en as studente sukkel met die kwalifikasie sal die titel van ‘ingenieur’ sommer net toegeken word. So kan almal ingenieurs wees.
Kort voor lank het die groot masjiene, wat die lug suiwer hou, begin probleme gee. Een van die groot masjiene in die noorde van die land het heeltemal ophou werk en ander het op half-kapasiteit gewerk. Die ANS was woedend, die probleme wat nou opduik is die skuld van die vorige ingenieurs!
WURG, ANS se radikale korps, het begin met ‘n regstellende proses. Elke keer as die suurstofvlakke in die land min was, het hulle die ingenieurs van die ou dae ‘n bietjie gewurg.
Op elke moontlike manier is die ou-ingenieurs van vars lug ontsê. By die werk is hulle koppe onder water gedruk, by die skole is toue om hulle nekke getrek en in die parlement is hulle gemuilband. Die vreeslike gewurg het niemand anders se suurstof meer gemaak nie, maar almal by ANS het geesdriftig help wurg. As die ingenieurs gewurg word en stoei om asem te kry- dan, het hulle geglo, sal alles reg wees!
Die ingenieurs het steeds allerhande planne gemaak, skuba-toerusting gedra, hulle eie suurstoftenks saamgery, nekbeskermers van staal gebou sodat die wurgery nie so seer maak nie…
Niks van hierdie planne het egter die probleem opgelos nie. Die probleem was dat ANS en WURG nie meer enige suurstof aan die ingenieurs gegun het nie. So hoe meer planne die ingenieurs gemaak het, hoe harder is hulle gewurg.
Totdat ‘n klein groepie van die ingenieurs se kinders eendag besluit het: genoeg is genoeg. Al die skatte en vrugbare aarde van die land is nie die moeite werd as die lewe elke dag uit hulle gewurg word nie! Hulle het die goudmyne se rykdom vaarwel geroep en op ‘n eie plek gaan bly. Daar was min op die nuwe, die plek. Die ingenieurs het geweet dat hulle heel voor sou moes begin, maar op die eie plek was daar genoeg asem om te bou. Al moes hulle hard werk, was almal vrolik en doeltreffende werkers, want hier kon hulle vrylik asemhaal!
Die voorreg van ‘n vars, vol asemteug is baie groot voorreg vir iemand wat dit vir ‘n lang ruk nie gehad het nie! Die fokus was nie meer op WURG of ANS of hulle vuil lug nie, maar op ‘n EIE toekoms.
Lewensruimte om onsself te wees, moet eintlik vanselfsprekend wees. Christen-Afrikaners is dit so lank ontsê dat al ons inisiatief en planne in oorlewing moes ingaan.
In Orania kan ons ‘lewensasem’ weer vanselfsprekend aanvaar, en dít moet ons ten alle koste beskerm.