Lede van Orania Veiligheidsdienste het saam met plaaslike boere en die SAPD Donderdag in die vroeë
oggendure drie vermeende koperdiewe in hegtenis geneem. Daar word vermoed dat dié vermeende diewe die groter omgewing die laaste tyd met kriminele aktiwiteite geteister het.
Die operasie het die afgelope week begin waar aktiwiteite van `n kriminele bende gemonitor is. Na verskeie insidente waar veral koperkabels van spilpunte op omliggende plase gesteel is, het OVD se spanne en vrywilligers ‘n hommeltuig, honde, nagsigtoerusting en voorafopgestelde kameras op plase rondom Orania ingespan.
Die afgelope Donderdag het lede van OVD, wat die OVD Taakspan, Reaksiespan, Reserwegroep en AfriForum
Protospan insluit, weer berig gekry van ‘n misdaad wat in proses was en spanne met die nodige
toerusting ontplooi. Van die spanne het as stoppergroepe opgetree, terwyl ander die verdagtes deur nagsigtoerusting dopgehou en die ander spanne deur radio-kommunikasie tot by die verdagtes gelei het.
Toe die veiligheidspanne inbeweeg vir die arrestasie, het die vermeende diewe probeer ontsnap maar is deur veiligheidspersoneel ingehaal. Drie verdagtes, twee diewe en die span se
ontsnapvoertuigbestuurder, is gearresteer en ‘n saak is by die Suid-Afrikaanse polisie aanhangig gemaak. Volgens die SAPD word die verdagtes ook met ander rooftogte en dwelmbedrywighede verbind.
Theuns Wessels, weerbaarheidsbestuurder by OVD sê die verskillende spanne werk goed
saam. “Ons kon daarin slaag om met samewerking en die aanwending van tegnologie doeltreffende te ontplooi en weereens ‘n goeie wen vir die veiligheidspoging in die streek te kry.”
Ettiene de Lange, hoof van OVD, sê dat deel van Orania se veiligheidstrategie daarin lê om die streek te help beveilig. “ ‘n Veilige streek beteken ‘n veilige Orania” het Ettiene gesê.
Orania Veiligheidsdienste (OVD) is ‘n professionele en geregistreerde veiligheidsmaatskappy wat ‘n
vol filiaal van die Orania Dorpsraad is, en dit ten doel stel om Orania en die omgewing veilig te hou en
openbare orde te handhaaf.
15,450 comments