NATUURLIJK ’N EERSTE VIR ORANIA

Groep 2 het jare terug Rokkies wou sy dra, gesing. Op Donderdag 30 September het die fraaie vroue van Orania, onder leiding van afrigter en organiseerder, Dia van Staden, die loopplank ingekleur. Die tent van Volkskool Orania is vir die geleentheid aangewend.

Dertien vroue van die dorp het ’n paar weke lank geoefen om hul stappies op die verhoog te vervolmaak. Daar is van ’n verskeidenheid instansies gebruik gemaak om die klere te verskaf. Cia-Mari boetiek, His healing linen, Kroon-tot-Toon (Ora Asterreeks) en ’n paar vernuftige ontwerpers van die dorp het hulle talente gedeel.

Die gaste het vroegaand by ’n aantal pragtig gedekte tafels vir die glansaand aangesit. Eric Bornman het vir die klank en musiek gesorg en tussenin sy vernuf met die saksofoon gedeel. Dia van Staden, die Okkasie Hasie van Orania, het die gehoor ingelig oor die verskaffers van die klere en meer oor ’n paar nuwe produkte in die dorp vertel.

Elke gas het ongeveer 9 geskenkbewyse van verskeie besighede in die dorp ontvang. “Dit was wonderlik hoe die gemeenskap aangehaak het by die projek en deel daarvan was,” vertel Dia. Die manne wat teenwoordig was het die aand net soveel geniet en juigend hul vroue, vriendinne of dogters aangemoedig.

Daar word uitgesien na ’n soortgelyke geleentheid wat voortaan jaarliks sal plaasvind waartydens vroue hul vroulikheid en vrolikheid deel. Volgende jaar beoog Dia om ook die manne vir die geleentheid op die loopplank te sit.

Leave a Reply

Your email address will not be published.