Lig aan die einde van die tonnel vir drankverkope?

Restauranteurs, kroegeienaars en drankwinkel-personeel is vandeesweek verheug oor die afkondiging deur president Ramaphosa dat drankverkope van vanaf 10:00 tot 22:00 in restaurante en kroeë (na gelang van hulle dranklisensies) en op Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 by drankwinkels hervat mag word.

Mede-eienaar van De Boer Restaurant en Kroeg Quintin Diedericks sê dat dit vir sy besigheid baie goed is dat die drankverbod gedeeltelik gelig is en hulle ook bly is dat die aandklokreël nou van 22:00 tot 4:00 geld. “Ons kan nou ’n bietjie langer oop bly en dus meer verkope doen.”

Hy sê dat sy besigheid in die afgelope jaar aangepas het om die uitdagings wat die industrie beleef die hoof te bied deur meer te fokus op kosverkope en aflewerings.

Hy sê egter hy glo nie dat dinge binnekort sal terugkeer na normaal toe nie, aangesien daar tans steeds regulasies ingestel is onder vlak 3-inperkings. “Ons werk steeds onder beperkte handelsure en
-voorwaardes.  Daar is wel lig aan die einde van die tonnel, want ons kan darem nog oop bly.”

Wynhuispersoneellid Jaco van der Merwe sê hulle kan weer kop bo water hou met die gedeeltelike verslapping van die drankverbod. “Ons kan nou weer ons basiese uitgawes betaal, maar ons kan nie eintlik staat maak op baie wins of vooruitgang op hierdie stadium nie.”

“Daar is dalk ’n kersvlammetjie aan die einde van die tonnel, alhoewel ek dink daar gaan dalk nog golwe van Covid-gevalle kan volg. Mense is paranoïes oor drankverkope, maar ons sal sien wat SAB en die Wynvereniging se hofsake oplewer.”

Van der Merwe sê dat die Wynhuis dankbaar is vir die reserwefondse wat hulle gehad het en dat hulle nog geen werknemers hoef af te gedank het nie; salarisse is nog maandeliks uitbetaal aan elkeen dusver.

Bavaria Brouery se Sepp Eckmaier sê hy dink glad nie dat hierdie die lig aan die einde van die tonnel is vir drankverkopers nie. “Die kanse is groot dat ons weer ’n inperking sal beleef. As ’n mens die virus-infeksiekoersdata analiseer besef jy daar móét eintlik ’n derde golf wees.”

Hy sê dat die regering se besluite onvoorspelbaar is. “Ons het gehoop dat die drankverbod dalk teen die 15de Februarie gelig sal word, dus het ons nie voorraad voorberei nie.”

“Ons besigheidsmodel het nie alternatiewe nie. Ons is ’n brouery, ons maak nie geld uit kos en ander produkte nie.”

Eienaar van Zebra-restaurant en -kroeg sê dat sy onderneming besluit het om ander geleenthede te ondersoek. “Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik die aankoop en oprigting van Zebra Brouery. Veral die brouery het in die afgelope paar maande geweldig gegroei. Weens die feit dat tussen 60% en 80% van die ‘craft’-biermark uitgewis is, is daar aansienlike nuwe geleenthede om buite Orania te ontgin.”

Hy sê Zebra-restaurant ondersoek tans die moontlikheid om in die toekoms sake in Pretoria te doen.

Volgens Roets is daar lig aan die einde van die tonnel. “Weens die feit dat baie ondernemings in hierdie tyd nie kon oorleef nie is daar tans groot geleenthede in die mark wat ontwikkel kan word.”

1,287 comments

  1. Pingback: PEP

Leave a Reply

Your email address will not be published.