Die betekenis van 2 Februarie vir ons Volksgeskiedenis

Die ANC word gewettig. Nelson Mandela word vrygelaat.

Dit was die kern van meneer FW de Klerk, die laaste wit staatspresident van Suid-Afrika, se opspraakwekkende 2 Februarie 1990-toespraak tydens die parlementsopening in Kaapstad.

Die realiteit dat die Afrikaner hiermee tot tweedeklasburgerskap afgegradeer en sy geskiedenis gekriminaliseer is, sou eers veel later deurdring. Die vernietigende impak wat die ANC-regering op Suid-Afrika sou hê, sou geleidelik na die oppervlakte kom. Vandag staan die ANC in die beskuldigdebank voor sy eie regterlike kommissie, wat die omvangrykste en vernietigendste misdade wat nóg deur politici en amptenare in die geskiedenis van hierdie land beknoei is, moet probeer ontrafel.

Hoe verder 2 Februarie 1990 deur tyd en realiteit teruggedruk word, hoe minder wil die Afrikaner daaraan herinner word, en goed ook so. Hoe gouer die fokus verskuif na ander belangwekkende gebeure wat op hierdie dag in ons volkslewe plaasgevind het, hoe gouer kan die Afrikaner homself heroriënteer ten opsigte van sy toekoms en die uitdagings waarvoor hy staan.

So was 2 Februarie 1915 die dag waarop ons volk finaal die wapen teen Brittanje – die argitek van die nuwe Suid-Afrika van 1910 – neergelê het. Na ’n uiters ongelyke wapenstryd moes die laaste 800 Afrikaner-rebelle op hierdie dag die knie voor 33 000 lojale Britse onderdane buig en hul wapens by Upington oorhandig.

Die einde was bitterder as 31 Mei 1902, want hierdie keer is die bittereinders nie terug na hul plase toe nie. Ikoniese en wêreldberoemde militêre aanvoerders soos generaal Christiaan de Wet is aan hoogverraad skuldig bevind, beboet en in die tronk gegooi.

Buite die tronkdeure het die vryheidsideaal egter voortgeleef en gegroei. Die Afrikaner het nie gaan lê nie, maar uit die as van die bittere stryd teen die magtigste moondheid op aarde opgestaan, en sy vryheidstryd langs die konstitusionele weg voortgesit. Op 31 Mei 1961 het dit op die Republiek van Suid-Afrika uitgeloop, wat ten spyte van die Nasionale Party-regering se rassebeleid deur Brittanje en die wêreld erken is. Ná 25 jaar van ANC-bewind staan hierdie land steeds as die Republiek van Suid-Afrika bekend.

2 Februarie was ook die dag in 1837 waarop die Voortrekkerleier Piet Retief se bekende manifes in die Grahamstown Journal verskyn het. Dit is ingelui met die woorde: “Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vabonde wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus. Ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat op dié manier gekwel word deur interne beroeringe nie.”

Retief het afgesluit: “Ons verlaat nou die Kolonie onder die volledige versekering dat die Engelse regering niks meer van ons te vorder het nie, en ons sonder bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.”

Die Engelse regering was magteloos teen hierdie soort rebellie, waar sy gesag nie met die wapen uitgedaag is nie, maar waar duisende van sy beste en lojaalste burgers hom eenvoudig die rug gekeer en na ’n ander deel van Suid-Afrika getrek het. Daar het hulle bevryde gebiede geskep wat uiteindelik Boererepublieke geword het, en deur die hele wêreld erken is.

Stil-stil, sonder dat dit amptelik aangekondig is, is ’n nuwe soort Groot Trek nou besig om te gebeur. Hierdie keer draai ’n stroom Afrikaners – waaronder Suid-Afrika se bekwaamste, lojaalste, wetsgehoorsaamste en hardwerkendste burgers – die rug op ’n vyandige en venynige regering wat heeltemal uit pas met hul norme, standaarde en verwagtige is. Hulle trek meestal suid, terug oor die Oranjerivier, na bevryde gebiede waar hulle hulself wil bestuur. Vir hierdie mense kom bevryding nie deur die loop van ’n geweer nie, maar deur volkseie arbeid, eie instellings en ’n eie grondgebied.

Soos die tyd aanstap, sal 2 Februarie 1990 en sy argitekte al meer op die agtergrond skuif. In die plek daarvan sal 2 Februarie 1837 uittroon as rigtingwyser vir die Afrikaner. Terugslae en bemoeiing deur ’n vyandige regering sal daar wees, maar van nou af sal 2 Februarie, elke jaar, ’n jaar nader aan vryheid wees.

 Dr Louis Bothma is ’n onafhanklike historikus en skrywer.

Leave a Reply

Your email address will not be published.