Orania in die binnebaan met 2021 om die draai

Deur Gawie Snyman

2020 is een van daardie jare wat seker vir altyd onthou sal word as dié een grootste waterskeidingsjaar in menseheugenis.

COVID-19 (ʼn woord waarvoor ons almal nou regtig keelvol is), die gepaardgaande grendel, asook die dreigende finansiële krisis, het nog lank nie die laaste woord gehad nie – dit weet ons almal. Wanneer ons hierdie werklikheid verreken is dit baie maklik om in sak-en-as te gaan sit en net te wag dat die lewe met jou moet gebeur.

Maar dit is waar Orania anders is! U weet beter as ek dat dit juis in tye soos hierdie is –wanneer die kanse op sukses en vooruitgang amper onmoontlik lyk – dat Oraniërs hul staal wys. Ons het dit reeds in hierdie jaar gesien. Terwyl die wêreld tot stilstand gedwing is, het Oraniërs kreatief die bewegingsruimte tot ons beskikking gebruik om ons gemeenskap verantwoordelik en sonder drakoniese en verstikkende regulasies te laat gedy. Ons krag lê in ons mense!

Na die grendelstaat is dit regtig ʼn riem onder die hart om uit verskeie oorde van ons plaaslike ondernemers te verneem dat besigheid herstel het tot hoër vlakke as voor die grendel. Orania wemel van nuwe intrekkers, agente bevestig goeie verkope van eiendomme, ons konstruksiebedryf is steeds dinamies en gesond, gastehuise is alreeds vol bespreek vir Desember en ons boere is optimisties oor die vooruitsigte vir die komende koringoes.

Iemand het eenkeer gesê dat sukses die somtotaal van ʼn menigte regte, klein besluitjies is. Moet daarom nie soek vir daardie één majestueuse of deurslaggewende besluit nie, maar kyk eerder na gedragspatrone. Dit is danksy ons beginsel van selfwerksaamheid in samehang met ʼn hoopvolle toekomsverwagting van Afrikanerselfbeskikking, dat Oraniërs ʼn entrepreneuriese gees kon ontwikkel wat oplossinggedrewe is. Om dit anders te stel – “niks doen” is nooit vir Oraniërs ʼn opsie nie – ons maak eerder foute en leer daaruit as om stil te sit en niks te doen nie.

Dit is daardie veerkragtige instellings waar kreatiwiteit en entrepreneurskap gekoester word, wat hulself van die res gaan onderskei. Orania, in sy veelvoud van instellings, is een so ʼn instelling wat kritici stom gaan laat.

By Orania Dorpsraad, slegs een van Orania se vele instellings, is ons reeds besig met omvattende infrastruktuuruitbreidings en -opgraderings, word mooimaakprojekte beplan, kan ons trots wees op ʼn goed geoliede gemeenskapsveiligheidstruktuur, en is ons besig om ons ordereëls en grondgebruikreëls by te werk ten einde te verseker dat die openbare orde gehandhaaf en ons Westerse beskawing hier in Afrika verskans kan word.

Benewens die bogemelde projekte is Orania Dorpsraad, as mede-oprigter van die Orania Bewaringstigting, baie opgewonde oor die vooruitsigte om die bewaring van ons kultuur- en natuurerfenis na ʼn volgende vlak te neem en nooi ons graag elke Oraniër uit om daarby betrokke te raak.

Deur genade en harde werk het ons tot hier gekom; deur genade en volharding sal ons die wedloop voltooi.

Gawie Snyman is die uitvoerende hoof van die Orania Dorspraad

1,215 comments

  1. Pingback: arduino

Leave a Reply

Your email address will not be published.