Die jaarlikse Bo-Karoo Swem en Driekamp het op 28 November in Orania plaasgevind. Vanjaar was die derde jaar wat hierdie kompetisie aangebied is en daar was ’n rekordgetal inskrywings. Hierdie jaar kon deelnemers ook inskryf vir driekamp, wat swem, fietsry en draf insluit, asook waterpolo, duikplank toertjies en ’n pret-aflos.
Deelnemers kon individueel of in spanne inskryf vir die driekamp. Dit het begin by die Orania Dorpsswembad waar die deelnemers geswem het, daarna het hulle die fietsroete aangedurf en laastens het hulle gedraf tot by die eindpunt weer by die swembad.
Deelnemers het vir verskillende afstande inskryf by die driekamp en vir verskillende hoeveelheid lengtes by die swem. Daar is besluit om ’n groter verskeidenheid items aan te bied, sodat meer mense kon inskryf en deelneem. Chantal Vermeulen, hooforganiseerder het aan Die Oraniër gesê dat daar byna 80 deelnemers was, waarvan 17 uitwoners is, wat aan altesaam 170 items deelgeneem het. Daar was 38 vrywilligers van die gemeenskap betrokke wat as beamptes, tydhouers en fotograwe opgetree het.
“Sonder die beamptes, borge en deelnemers sou die kompetisie nie moontlik gewees het nie,” het Vermeulen gesê.
Elke deelnemer het met ’n prys weggestap, al was dit net ’n troosprys. Vermeulen sê verder dat daar beplan word om ’n glyplank langs die duikplank, aan die diepkant van die swembad op te rig.
Anja van Wyk, een van die deelnemers aan die driekamp, het gesê dat die roetes vir die draf en fietsry interessant uitgelê was wat opdraandes en grondpaaie ingesluit het.
Daar word reeds aan 2021 se Bo-Karoo Swem en Driekamp beplan en meer inligting is beskikbaar by die Orania Dorpsswembad Kiosk of by Bo-Karoo.co.za waar vorige kompetisies se uitslae en foto’s ook gevind kan word.

Bạn đang tìm kiếm thông tin về lịch thi đấu v-league 2024 hôm nay?