WERKSWINKEL BOU SAKEREUSE

Dia van Staden is eintlik ’n onderwyseres. Sy het Engels, Spraak en Drama sowel as Liggaamsoefening gegee voor sy die onderwys in 1992 verlaat het. Sy vertel dat sy verskeie beroepe op die proef gestel het voor sy besluit het wat sy wil doen. “Ek is steeds besig met daardie proses,” vertel sy met ’n vonkel in die oog. Dit het ingesluit ’n pos as verkoopsdame, restaurant-bestuurder, kliëntediens-bestuurder, skou-organiseerder, aanbieder van vele gemeenskaps-projekte en fondsinsamelaar. “Ek is in murg en been brugbouer, opvoeder, entrepreneur, lewensafrigter, joernalis en emosionele intelligensie spesialis,” vertel sy.

Op Bittereinderdag vanjaar het sy in Orania aangekom. Die grendelregulasies het haar sakeplanne in die wiele gery en sy was reg vir ’n nuwe bestaan. “Ek MOET ’n verskil maak waar ek woon, en dit is nou tyd om dit vir die Afrikanerjeug te doen,” vertel sy oor haar eerste groot projek in Orania. Dit staan bekend as die KleinSakeReus-projek wat afgeskop het as ’n tweedag-lange werkswinkel waar skoolkinders met sakevaardighede bemagtig is. Daar het hulle onder meer geleer hoe ’n CV moet lyk, hoe om met die media te skakel en wat ’n kontrak behels. Die werkswinkel sal in 2022 ’n jaarlange projek wees. “Ek wou hê die leerlinge moet ’n gevoel kry van wat vir hulle wag indien hul vir die jaar by ’n groep sou aansluit. Die KleinSakeReus beoog om kinders bloot te stel aan ’n verskeidenheid beroepe sodat hul ’n ingeligte keuse kan maak vir studies of werkplek.” Dia vertel dat kenners daarop wys dat daar drie redes is waarom leerders as studente faal: Swak emosionele intelligensie, oningeligte besluit van studierigting en hulle weet nie hoe om navorsing te doen nie.

Behalwe dat die KleinSakeReus-projek leerlinge van graad 9 tot 11 wil toerus met die uitbou van elkeen se unieke potensiaal, sal daar gefokus word om leerders ’n aanwins vir die beroepswêreld en die ekonomie te maak. “Elke gemeenskap het mentors wat ’n bydrae kan lewer tot die uitbou van die vermoëns van jongmense. Dit moet benut word. Baie mense kla oor die jeug, maar elke volwasse individu en die sakegemeenskap van Orania, en enige ander dorp in die land, het ’n verantwoordelikheid om hul eie kinders te help en toe te rus met die nodige vernuf om ’n sukses van hulle toekoms te maak,” sê Dia. Sy onderskat geen kind se waardigheid nie, maar besef dat hy of sy slegs vaardighede kan ontwikkel indien die nodige blootstelling geskied. “Ek gesels met die onderskeie instellings om nog werkwinkels gedurende 2021 aan te bied vir verskillende ouderdomsgroepe. Ek sal graag met die studente en jong volwassenes ’n pad wil stap, sodat hulle as individue vol selfvertoue die beroepswêreld as werknemers of werkgewers kan begroet.”

820 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published.