DIE BIEHLS IN BERLYN

Deur Sebastiaan Biehl

Ek is nou al 2 jaar in Duitsland (sedert middel Meimaand 2019). Die meeste tyd daarvan het ek in Berlyn spandeer, wat weens werksgeleenthede ons bestemming geword het. Vir sowat 3 maande was ek alleen om vir my werk te soek en dinge soos verblyfreëlings in plek te kry. In Julie 2019 het my vrou en kind by my aangesluit en die normale lewe as gesin het begin. My ouers bly sowat 6 ure per trein weg en ons sien hulle net ’n paar keer per jaar.

Vir ’n jaar en ’n half het ek as analis vir geldwassery by Deutsche Bank gewerk, ’n rekenaarwerk in ’n groot oop kantoor en met ’n baie internasionale span. Die kollegas was gaaf, dit is die tipiese korporatiewe, internasionale opset. Duits en Engels is die kommunikasietale, maar in die hele groot kantoor is verskeie nasies en tale verteenwoordig. Sedert die begin van die jaar werk ek vir Lynx, ’n Nederlandse beleggingshandelaar, wat takke in verskeie Europese lande het. Eers was ek betrokke by ’n projek vir die opdatering van kliënte-inligting en risikobepaling. Tans is ek in opleiding as kliëntediens-agent, wat navrae sal hanteer oor alles rondom beleggings en tegniese vrae oor die webblad. Die kantoor is in die middel van Berlyn, die bekende bakens soos Gendarmenmarkt en Checkpoint Charlie, die eertydse oorgang tussen Oos- en Wesberlyn, is net ’n blok ver. Die opset is meer gemoedelik en persoonlik as by die Deutsche Bank en daar is ook lekker byvoordele soos gratis etes en drinkgoed.

Ek ry sowat ’n uur werk toe met die bus en moltrein. Die openbare vervoerstelsel is uitstekend en jy kan orals heen ry met die moltrein, stadtrein (S-Bahn), trem of bus, en veral die moltrein kom elke 4 minute verby, so jy wag nooit lank nie. Ek het ’n jaarkaartjie en kan enige vervoermiddel enige tyd gebruik en maak ook na werk daarvan gebruik as ek nog iewers heen wil gaan. ’n Motor is regtig nie nodig in die stad nie, parkeerplek is in elk geval ’n kopseer. Alleenlik as jy op ’n uitstappie na die platteland wil gaan is ’n motor handig. Ook per fiets kan ’n mens baie goed rondbeweeg, die stad is plat en daar is orals fietsrybane.

Vir die eerste paar maande het ek by ’n vriend gebly,’n joernalis wat ek in Orania ontmoet het toe ek toergids vir hom, sy broer en ma was. Hy is baie pro-Orania en een van die baie min regsdenkende mense in Berlyn. Deur hom het ek ook sy vriende, mans en vroue, ontmoet en ons is ’n gawe groep wat polities eenders dink en ook saam op uitstappies gaan. Ek geniet die oormaat aan kulturele aanbiedinge soos konserte, museums, lesings ensovoorts (dis nou voor COVID-19). As gesin bly ons sedert die middel van 2019 aan die Westekant van Berlyn, in die rustige buurt Pichelsdorf in die stadsdeel Spandau, wat omring is met water en ’n heel burgerlike atmosfeer het, met veel bome. Ons bly in ’n wonstelkompleks uit die laat 1960’s, modern gerestoureer en gerieflik, met ’n groot stoep en park met genoeg speelplek vir Leonhard. Sy kleuterskool, wat hy baie geniet, is stapafstand, asook kruidenierswinkels, eetplekke ensovoorts. Die woonstel is egter beknop in vergelyking met dit wat ’n mens in Suid-Afrika gewoond is, en ook betreklik duur omdat huurplek so skaars is in die stad.

’n Voordeel van die stad is dat jy bykans alles wat jy nodig het naby jou het. Kenmerkend vir Berlyn is dat dit wel ’n sentrum het, maar dat dit uit verskeie dele en stede bestaan wat elkeen sy eie stadsentrum en eie karakter het, sodat jy nie na die eintlike middestad hoef toe te gaan nie. Spandau, waarvan ons deel is, het ’n mooi historiese ou stad. Dit is ook die waterrykste deel met die Havelrivier en mere wat hier is.

Berlyn as geheel is seker ’n soort Babylon en enige denkbare sonde is hier, maar die meerderheid mense is soos orals doodgewoon en leef hulle lewe en pla jou nie. Ek het nog nie een keer bedreig gevoel nie. Al lyk talle mense met hulle tatoeërmerke, pienk en groen hare, ringe op elke plek onguur, is daar ’n groot mate van verdraagsaamheid. Die stad is vol uitlanders, maar die onaangename soort aggressiewe jongelinge of bendes is nog nie
oorweldigend nie en selfs die Moslem-buurte is betreklik veilig. Natuurlik is daar sekere dele waar die omstandighede nie meer gaaf is nie, veral sekere parke met dwelmsmouse en rommel, maar dit is nog nie Johannesburg

nie en blykbaar was daar tye waar dit erger was. Al is die stad se oorhoofse karakter links, sekulêr en internasionaal, is dit so ’n groot stad dat jy alles en enige soort mense hier kry, selfs behoudende Christene, as jy hulle net soek.

Wat kerk betref was ons vir sowat ’n jaar by die Lutherse Kerk wat aanvaarbaar was maar ook maar effens afgewater en polities-korrek. Toevallig het ek sowat ’n halwe jaar gelede afgekom op die Landeskirchliche Gemeinschaft für entschiedenes Christentum, wat evangelies in die ware sin en sendinggerig is, sonder om charismaties of internasionaal te wees. Dis nogal ’n opset wat aan ’n Afrikaanse kerk soos die Evanglies-Gereformeerde Kerk of APK laat dink en Heidi het dadelik daar tuis gevoel, al sukkel sy nog met die Duits en voel andersins nog redelik vreemd. Sy het met groot sukses haar Duitse taal- en integrasiekursus meer as ’n jaar gelede begin, maar moes weens swangerskap en geboorte dit eers staak. Met die baba is daar skaars tyd vir leer. Deur die Duitskursus het sy ook ’n goeie vriendin gemaak en ook nog een of twee ander vriende hier in ons kompleks.

Veel tyd vir uitstappies en verken is daar nie, en na amper 2 jaar het ons ook nie meer die groot nuuskierigheid en bekoring van die begin nie, maar ons probeer om elke naweek iets te doen, al is dit net om te stap in die park. Vir Leonhard is daar om elke hoek en draai lieflike speelparke. Weens COVID-19 is meeste goed wat ons andersins sou besoek het, natuurlik gesluit.


Sebastiaan Biehl was vroeër ’n navorser en toergids by die Orania Beweging en woon tans saam met sy vrou Heidi, seun en dogter in Berlyn, Duitsland.

1,642 comments

  1. Basically I am a very open person, so I am not afraid to be filmed free adult webcams. Therefore, I look forward to showing you one or the other video of me in the future. I want to try myself out and have new experiences. Maybe something will happen between us!