Ontmoet die man wat toestel ontwerp wat Klarissa help vind

Deon Vorster vertel dat hy en sy gesin, oorspronklik vanuit Richardsbaai, KwaZulu-Natal, sedert Desember 2019 woonagtig is op ’n hoewe in Kambro, waar hy besig is om ’n pluimveeboerdery op die been te bring. Deon is ook ’n passievolle musikant.

Hy het vir 23 jaar in die  aluminiumbedryf gewerk en sodoende praktiese ervaring opgedoen in veiligheids- en produksiebestuur,  en het veral gefokus op die innovering van nuwe tegnologie, asook die implementering van sy idees en konsepte. Deon vertel dat van die idees tans regoor die wêreld in die bedryf in gebruik is.

Die Vrydagaand na Klarissa se verdwyning  het hy kort voor 22:00 saam met die waakspan op Fluitjieskraalbrug aangemeld, en regdeur die aand die rivier bestudeer en aan ’n werkbare metode  gedink om, met al die eienskappe van die rivier in ag geneem (soos bodemeienskappe, die diepte van die troebel water asook onvoorspelbare stroomversnellings), dit moontlik te maak om die onsigbare pad van die sterkste meesleurende stroom visueel te bepaal.

Deon het teen vroeg Saterdagoggend huis toe gekeer met ’n idee in gedagte wat later tot Klarissa se opsporing sou bydra. “Ek het my voorgeneem om na Klarissa te soek asof sy my eie kind was, en met ander oë en ’n veel dieper liefde na my eie twee meisiekinders gekyk,” vertel hy.

Kort nadat sy vrou vir hom koffie gebring het, het sy oë geval op die slaansak onder ’n boom waarmee hy sy kinders selfverdediging leer, en het hy binne ’n halfuur die toerusting (wat ’n geel dryfring, wat hy met 6 meter skitou aan die slaansak verbind het, ingesluit het) aanmekaargesit. Deon was van mening dat indien die dryfring op die oppervlak van die water opgespoor kon word, dit sou wys waar die toestel is en ’n goeie aanduiding kon gee waarheen  die prominente stroom iemand sou kon meesleur.

Teen Saterdagaand 18:30 is hy toestemming gegee om die toerusting te gaan lanseer op die posisie waar Klarissa laaste gesien is. Hy het die slaansak met water gevul tot dit onder die sterk water van die Oranjerivier verdwyn het. Een van die lede van die uitkykspan by Sandbaai het die geel dryfring teen ongeveer 19:00 die aand stroomaf sien beweeg in die rigting van Fluitjieskraalbrug.

Die soektog sou nog tot die Maandag duur, maar dit was daardie dryfring wat Joost Strydom, Sepp Eckmaier en Conrad Basson se aandag getrek het na die plek waar hulle Klarissa gevind het. Deon is van voorneme om sy idee te patenteer en te bemark aan veiligheids- en opsporingsinstellings wêreldwyd en beplan ook om ’n GPS- opsporingstelsel  en helderrooi ligbaken op die dryfring aan te bring.

Die Vorster-gesin het hulle medelye met Klarissa se familie en naasbestaandes uitgespreek.

Deon en sy vrou Helena saam met hulle dogters Miecke en Abbey.
So lyk die toestel wat Klarissa help opspoor.

338 comments

  1. ‘n Boer maak altyd n plan. Miskien met toestemming van haar ouers moet jy die toestel “Klarissa”doop in eer van haar

Leave a Reply

Your email address will not be published.