’n Artikel oor ’n gesonde kuierkultuur
Deur Sarel Roets
Begin 2016 het ek my hand gewaag aan ’n kuierplek genaamd die Blou Hings as uitbreiding van ons bestaande restaurant, die Pienk Zebra. Die kritiek teenoor die kuierplek was baie en ongelukkig dikwels gegrond. Ek het die onderneming begin met die verwagting dat my kliënte dieselfde kultuur en waardestelsel as ek sou handhaaf (niemand kan my beskuldig daarvan dat ek nie naïef positief is oor my medemens nie).
My gevolgtrekking was dat die meeste Afrikaners nie ’n gesonde drinkkultuur aangeleer het nie. Dit was byna deur bloed heen dat ons die aard van die omgewing en die gees van die kliënte verander het tot ’n positiewe kulturele belewenis. Tans is daar al meer besoekers wat ons tradisionele boeregeregte kom eet by die Pienk Zebra terwyl hulle na die goeie Afrikaanse musiek luister wat deur plaaslike kunstenaars gespeel en gesing word. Drank per se word al minder die doel van die oefening terwyl die kulturele ervaring deur middel van die musiek, spys en drank die groot trekkrag geword het. Gevolglik is die probleem-kliënte óf nie teenwoordig nie, óf hulle pas in by die aard en kultuur van die omgewing. Deur enigeen van die musiek, spys of drank weg te neem, sal die karakter en kultuur van die geleentheid negatief beïnvloed word.
Die waarmaker en die vriendemaker
Afrikaner-gasvryheid was nog altyd ’n deel van ons kultuur waarop ons trots kon wees en in die verlede op kon roem. Selfs in die Vryheidsoorlog het Engelse generaals met lof vertel oor hulle ervaringe wanneer hulle deur die Boere gevange geneem is. Ek glo dit is juis hierdie mooi eienskap van ons Afrikaner-kultuur waaruit ons liefde vir ’n kampvuur en vleisie of potjie op die kole vandaan kom.
Die Afrikaner is byna net so sosiaal as wat hy hardkoppig is. Dit is ongelukkig hierdie kombinasie wat menigte Kersfeesfamiliegeleenthede aan die einde van die vorige eeu tot ’n bittere einde laat kom het. Ek glo dat die vonkelwyn wat saam met die gesprekke rakende die kerk en politiek gevloei het, bygedra het tot verdere bitterheid. ’n Bitterheid wat tot op hede ons gemeenskap se bestaan beïnvloed. Dit is weereens ’n voorbeeld van hoe drank die gees en omgewing van die byeenkoms beklemtoon.
Wanneer daar egter rondom dieselfde belange en ideale in ’n positiewe gees saam gekuier en glase geklink word, gebeur daar dikwels wonders. Enige persoon wat al die voorreg gehad het om ’n Cantus by te woon sal hiervan kan getuig. ’n Cantus begin altyd met die Stem en ander volksliedere. Daarna volg daar ander nasionalistiese liedere uit ons volkskat. Bekers bier word gelig, heildronke ingestel op die verlede, die hede en die toekoms. Daar word saam gehuil en gelag. Persone wat hulle wangedra, word gedissiplineer. Die aand word na ongeveer twee ure afgesluit met ’n heildronk op vrolikheid en ’n ewige jeug waarna niemand kans sien om huis toe te gaan nie. Die rede vir die verder kuier is nie die laaste paar bottels bier wat oorgebly het nie. Die doel is nie drank nie, maar gemeenskaplikheid en die kameraderie tussen mekaar. “Ons stap saam die donker toekoms in,” nie omdat ons dronk en dom is nie, maar omdat ons mekaar het! Daar is ’n gemeenskap gevorm met ’n homogene verlede, hede sowel as toekomsideale.
Drank is die groot waarmaker. Dit is om hierdie rede dat my Duitse vriend my bona fides bevraagteken het toe ek nie 09:00 in die môre saam met hom ’n bier wou drink nie. Wat het ek om weg te steek?
Wanneer vriende saam drank gebruik, kweek dit vertroue in mekaar. Ons ontspan so ’n bietjie die doringdraad wat ons om ons eie onsekerhede gespan het. Ons luister meer en deel makliker. Gevolglik leer ons mekaar beter ken en daaruit vloei vertroue. Sonder vertroue kan daar geen gemeenskap of gemeenskaplikheid wees nie.
Die uiteinde van die saak …
Alkohol is ongetwyfeld van groot waarde en sal kan bydra tot verskeie aktiwiteite wat ’n ryk en vol bestaan bevorder. Hiervan is kuns, kultuur en gemeenskaplikheid maar enkele goeie voorbeelde! Tog is dit ook telkens bewys dat armoede, leegheid en selfs die dood dikwels deur drank veroorsaak word. Ek glo dat ’n ryk en vol bestaan uitsluitlik behaal kan word wanneer ons alledaagse doen en late in lyn is met God se Wil vir ons. Sy Wil sluit net soveel die gesonde gebruik van alkohol in, as wat dit die ongesonde gebruik daarvan veroordeel.
By die bruilof in Kana het Jesus sy eerste wonderwerk verrig deur water in wyn te verander. Nie omdat die bruidegom vergeet het om die wyn te reël nie, maar omdat die wyn opgeraak het. Verder het Jesus gekies om die nagmaal in te stel met wyn en nie druiwesap of water nie. Jesus het self wyn gedrink by die geleenthede waar hy dit goedgedink het. Tog het hy aan die kruis nee gesê toe die ‘asyn’, soos ons dit noem, vir Hom aangebied is. Hierdie asyn was ook ’n tipe kruiedrankie wat die doel gehad het om sy pyn te verlig en sy verstand te verdof.
Die les wat ons uit Jesus se voorbeeld moet leer en aanwend in ons eie ryk en vol bestaan, is om te onderskei tussen gesonde gebruik van drank en die ongesonde gebruik wat tot armoede, leegheid en die dood sal lei.
Afrikaners het nodig om die dinge van ’n kind agter te laat en verantwoordelikheid te aanvaar. Solank as wat kinderlik opgetree word, is die gevolglike teenreaksie daarop vanselfsprekend en sal die spreekwoordelike vliegtuig nie oor wees nie. Maar as ons volwassenheid en verantwoordelikheid kan aanleer, kan daardie brandewyn by die braaivleisvuur, of die wyn by die Kersete, of die bier by die kuierplek waarlik bydra tot ’n positiewe kultuur-ervaring wat sal bou aan ’n ryk en vol bestaan.
Sarel Roets is die eienaar van die Zebra Restaurant
Die artikel het oorspronklik in 2016 in die tydskrif REDE verskyn.
