Vilfredo Pareto, die Italiaanse ekonoom het opgemerk dat daar altyd 20% faktore verantwoordelik is vir 80% van die resultate. Dit is waar vir bemarking, finansiële vooruitgang, produktiwiteit en dit is selfs opmerkelik in stede en lande se vooruitgang. Israel het 0.2% van die wêreld se bevolking (daar is 100 lande wat groter is as Israel), het min tot geen natuurlike hulpbronne, is omring deur vyande en hulle staat is maar 70 jaar oud. Maar Israel het die derde mees opgeleide bevolking ter wêreld, het die tweede meeste Nobelprys-wenners ter wêreld relatief tot hulle bevolking, is die enigste land wat ’n vergete taal in die 21ste eeu kon laat herleef en het meer patente geregistreer as Indië, Rusland en Sjina saam – wat 300 keer die bevolking van Israel het. Anders as enige ander land, leef 90% van die bevolking van sonpanele af en is Israel die enigste land wat ’n netto groei in die aanplant van bome kan wys. Israel begin, relatief tot hulle bevolking, die meeste nuwe tegnologie maatskappye per jaar. As Israel die 20% kan wees wat ’n 80% rol speel in die konteks van die wêreld, kan Afrikaner entrepreneurs dit ook wees?
Die Chicago Boys is nog ’n goeie voorbeeld van die Pareto-beginsel. Hulle was enkele ekonome wat meeste by die Universiteit van Chicago onder Milton Friedman gestudeer het, wat Chile toe is in 1973 om die regering van die tyd, ekonomiese advies te gee. In 10 – 15 jaar het hulle die grense van Chile oopgemaak vir handel, regeringsinstansies is geprivatiseer en regeringsfunksies gedesentraliseer. Volgens kenners het hulle in daardie tyd 4 miljoen mense uit armoede gelig. ’n Gemiddelde persoon het vir die eerste keer $12000 ’n jaar verdien, wat ver bo die res van Suid-Amerika was. Inkomste per capita het 5.5% per jaar gegroei en Chile is aan die voorpunt van die kontinent geplaas.
Kan Afrikaner entrepreneurs vir Suid-Afrika wees, wat die Chicago Boys vir Chile was? Bloot as jy Afrikaans kan praat beteken dit reeds jy is deel van ’n klein groep mense wat ingestel is om groot veranderinge teweeg te bring. Die eerste MBA-graad, naas Harvard Universiteit, was in Afrikaans by die Universiteit van Pretoria aangebied. Name soos Pieter de Villiers en Roelof Botha het permanent Sillicon Valley aan die gons. Afrikaners het ’n maatskappy begin wat die eerste keer steenkool in ’n vloeistof kon verander en die eerste hartoorplanting is in Afrikaans gedoen.
Afrikaanse besigheid maak nie net kultureel sin nie, maar ook ekonomies. Daar is steeds 7 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, ’n derde van alle Suid-Afrikaners wat in die LSM groep 9-10 val praat Afrikaans en die Afrikaanse mark is verantwoordelik vir ’n vyfde (R376 miljard per jaar) van die totale spandering van Suid-Afrikaanse verbruikers. Verkoop jy motors? Wel ’n derde van motor verkope in 2015 was deur Afrikaanssprekendes. Verkoop jy annuïteite? Afrikaanssprekendes is vyf keer meer geneig om in die toekoms te belê as enige iemand anders.
Dit is so dat 80% van mense nie werklik die naald skuif op die ekonomiese termometer nie. Maar Afrikaanse entrepreneurs is die 20% wat die 80% verskil kan maak. As ons 20% van die tyd beter gefokus is en 20% van die tyd groter droom as ander, kan ons die 20% wees wat nodig is om die toekoms te verander.
Charl Oberholzer is `n entrepreneur en mede-eienaar van De Afrikaner Handelshuis en die handelsmerk Republk.
Hier in Orania het ek tendens gemerk van jongmense wat skool in graad 7 verlaat, wat die gesprek bo, byna idealisties maak.