Oor die afgelope twee dae het pasiënte met griepsimptome wat ooreenstem met COVID-simptome by van Orania se mediese instellings aangemeld en daar is COVID-19-toetse op sewe pasiënte gedoen. Die Oraniër kan nou bevestig dat een van die toetsuitslae wel positief is. Die hoof gemeenskapsdienste by die Orania Dorpsraad, Lida Strydom sê in `n verklaring op Facebook dat daar reeds sedert Maart vanjaar voorbereidings getref is vir die moontlikheid dat die virus na Orania kan versprei.
“Die Nood Mediese Sentrum (NOS) het gereeld vergader om scenario’s te bespreek en voorbereidings te tref. ʼn Mediese advieskomitee is in die lewe geroep om die NOS van advies te bedien. OraMed het verskuif van die Stokkiesdraai-sentrum na Steenbok Herberg. ʼn Verpleegkundige is getaak om die COVID-19 noodnommer te hanteer.” Lida sê verder dat om hierdie veranderde situasie te hanteer het die NOS saam met die Mediese Advieskomitee ʼn buitengewone vergadering gehou.
“Die belangrike oogmerk wat ons nou saam as ʼn gemeenskap moet bereik is om die verspreiding van die virus te vertraag en die broosstes in ons gemeenskap te beskerm. Die Corona-virus wat die siekte veroorsaak versprei baie vinnig en daar bestaan vermoedens dat dit ook op aërosolgrootte druppels versprei. Aansteeklikheid verhoog dus aansienlik waar groepe mense bymekaar is.”
Die NOS en die advieskomitee het die volgende aanbevelings gemaak:
1. Doen sover moontlik u werk van die huis af
2. Skole en kerke en enige ander plekke waar groot groepe mense bymekaar kom, word aanbeveel om vir die volgende drie weke te sluit en van aanlynplatforms gebruik te maak. Hoewel kinders in die meeste gevalle nie baie siek word nie, kan hulle as voertuie van die virus optree en is dit beter as hulle tuis bly.Instellings moet self verantwoordelikheid neem vir die bestuur van die pandemie
3. Dit is veral nou nodig om die aanbevelings wat herhaaldelik oor die afgelope maande gemaak is, uit te voer naamlik dat `n masker op die regte manier gedra word, mense vermy om aan die masker te vat, jou hande te was voor jy jou masker aansit en jou masker gereeld was.
4. Waar moontlik sorg dat u immuniteit ondersteun word deur daagliks groente te eet en gebruik aanvullings: ʼn multivitamien, vitamien C, sink en selenium. Kry minstens tien minute son per dag.
5. Dit is baie belangrik om by die eerste tekens van griep- of verkouesimptome met mediese personeel te skakel. Dit is beter vir ons almal as dit nie uitgestel word nie, hoe gouer ons bewus is van wie moontlik COVID-pasiënte is, hoe beter kan dit bestuur word. Skakel voordat u die mediese instelling besoek en verduidelik dat dit moontlik COVID-verwant is sodat spesiale maatreëls getref kan word om moontlike positiewe pasiënte te hanteer sonder om ander pasiënte aan te steek.
Hier is belangrike nommers waar u moet kennis dra:
OraniaMed24 – 066 533 4575
Orania Kliniek – 053 2070 072
OVD Beheerkamer – 053 2070 089