Poskantoor, Skool tydelik gesluit weens COVID-19

Die afgelope week is twee instellings in Orania tydelik gesluit weens COVID-19. Die Orania CVO-skool is van 21 Mei af vir ’n paar dae gesluit nadat 70 kinders op een dag afwesig was: ’n aantal van die kinders het hulself isoleer omdat hulle met COVID-positiewe persone in aanraking was en ’n personeellid sterk aan na ’n COVID-diagnose. Die skool wou ook diegene wat wag op uitslae van COVID-toetse die geleentheid gee om die uitslae te kry en daarvolgens op te tree. Diegene wat onseker was of hulle COVID onder lede het, het die geleentheid gehad om hulself laat toets. Intussen is die Poskantoor ook tydelik gesluit weens ’n moontlike COVID-19- verwante geval.

Die hoof van gemeenskapsdienste by die Orania Dorpsraad, Lida Strydom het in ’n kennisgewing ’n beroep op inwoners gedoen om verantwoordelikheid te neem om die verspreiding van die siekte te voorkom. “In Orania is ons standpunt deurgaans dat ons self verantwoordelikheid neem: individueel, as huisgesinne, as Afrikaners, maar veral as Oraniërs. Dat ons self verantwoordelikheid neem en self doen wat nodig is, het tot dusver Orania se sukses bepaal. Met COVID en met algemene gesondheid is dit nie anders nie. Neem verantwoordelikheid vir jou eie gesondheid en vir dié van jou gesin. Daarna vir almal met wie jy in kontak kom.”

Dr Phillip Nothnagel van KarooMed24 sê die stygende hoeveelheid gevalle is nie uniek aan Orania nie: “In Suid-Afrika is daar ’n algemene styging in die hoeveelheid gevalle en weens die aanbreek van ons griepseisoen sal meer mense simptomaties wees. Dit was nooit weg gewees nie. Ons het deurlopend pasiënte gesien met die tipiese simptome en tekens van COVID-19.”

Dr Nothnagel sê Oraniërs is ook meer bedag op die risiko van die siekte en baie mense meld nou aan om getoets te word: “Die meeste toetsuitslae is steeds negatief en ons raai mense aan om slegs te toets as hulle simptome het, aangesien die

COVID-toets swak presteer as ’n siftingstoets en negatiewe uitslae onbetroubaar kan wees. Vir dié wat simptomaties is en hulp benodig, sien ons steeds uitstekende resultate met behandeling en wil Oraniërs weereens vra om eerder vroeg aan te meld vir mediese sorg voordat komplikasies intree wat effektiewe behandeling bemoeilik.” Dr Nothnagel wys ook daarop dat Orania se statistiek steeds uitsonderlik is in vergelyking met die res van die wêreld. “Daarvoor is ons baie dankbaar,” sê dr Nothnagel.

“ ’n Lang winterseisoen lê voor en mens kan maklik angstig raak vir die toekoms, maar Orania het 2020 se winter deurgegaan sonder ’n enkele COVID-sterfte en ons kan net bid dat die Here se Wil sal geskied vir die res van hierdie jaar.”

Verhoog jou weerstand

Hoe hoër jou weerstand is, hoe beter is die kans dat jy COVID kan vermy of makliker gesond word. Die volgende is belangrik:
• Eet gesond, wat beteken dat die grootste gedeelte van jou dieet uit vars groente moet bestaan
• Rus genoeg, agt ure slaap per nag word aanbeveel.
• Stel jou self daagliks vir ongeveer 20 minute bloot aan sonskyn.
• Drink aanvullings soos  ’n multivitamien, sink en vit C.
• Voorkomende medikasie soos Septoguard of Echinaforce kan oorweeg word.

Indien jy enige griepsimptome toon, raadpleeg so gou as moontlik mediese advies. Dit is belangrik om dit so gou as moontlik te doen, eerder as om te laat te wag

256 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published.