“Leeu van ’n man” by De Boer oorlede

Die De Boer-restaurant het in ’n boodskap sy medelye uitgespreek met die familie en naasbestaandes van Floris “Grompie” Walters. Mnr Walters is verlede Saterdag aan ’n hartaanval by De Boer oorlede. “Hy was gewis ’n leeu van ’n man maar tog het ons ’n engel van ’n mens verloor,” lui die boodskap verder.

Na wat verneem word, het besoekers van buite Orania oproerig opgetree. Mnr Walters, wat die besoekers en hul ouers goed geken het, het hulle berispe oor hul baldadige gedrag. Kort daarna het hy op die perseel aan ’n hartaanval beswyk.

Die Oraniër het verneem dat die saak tans deur die polisie ondersoek word en verdere inligting sal eers na afloop van die ondersoek gepubliseer word.

Mnr Walters was ’n bekende figuur in die streek en word beskryf as ’n groot ondersteuner van Orania. Hy laat sy vrou van 34 jaar, Lidia, 4 dogters, 2 skoonseuns en ’n kleinseun agter. Die Oraniër getuig sy innige medelye met die Walters-familie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.