GROENER: SPOG HIERDIE SOMER MET ’N LIEFLIKE GRASPERK!

’n Tuinmaakrubriek deur Lida Strydom. Dié rubriek word aan u gebring met die
samewerking van die Groener Kwekery wat by Orania Hardeware geleë is,
Olienhoutrylaan 26 Orania. Telefoon: 053 2070 140. E-pos: lida@orania.co.za

Augustus en September is die ideale tyd om kopbemesting op die grasperk toe te dien. Dit word gedoen om grond se organiese inhoud en voedingstowwe te verhoog en die natuurlike balans in die grond te herstel.

Indien jy wil hê dat die gras vinnig deur die kopbemesting moet groei, kan jy 7:1:3 kunsmis vooraf toedien. Maak deeglik nat. Kopbemesting kan twee tot drie weke later gestrooi word.

Kopbemesting bestaan uit 50% kompos, 25 % goeie bogrond, 15% growwe riviersand en 10% veen wat vooraf goed gemeng word. Gelukkig is kopbemesting deesdae voorafgemeng in sakke beskikbaar bekend as “lawn dressing”.

Belug die grond deur ’n tandroller daaroor te trek of gate met ’n tuinvurk in die grasperk te steek. Die grasperk word dan liggies gesny. Benat die grasperk deeglik. Dien kopbemesting sowat 5-10 mm dik toe, dit beteken dat sowat 1 m³ kopbemesting / 150 m² gebruik word.

Gebruik die agterkant van ’n metaalhark en stoot die bemesting oor die hele oppervlak van die grasperk sodat dit die gaatjies vul en tussen die grasspriete inval. Hark dit verder liggies met ’n ligte plastiek-  of metaalhark om seker te maak dat dit nie ’ kors sal vorm as dit nat word nie. Besproei elke paar dae liggies.

LM-gras sal versmoor as kopbemesting toegedien word, maar Kikuyu en Skaapplaas sal gedy. Geniet jou grasperk hierdie somer!

Leave a Reply

Your email address will not be published.