’n Splinternuwe huis vir Turbo

Vordering aan die nuwe veiligheidsgebou in Orania vorder goed na die grendelstaat alle bouery laat staak het vroeër vanjaar. Ettiene de Lange, hoof van Orania Veiligheidsdienste sê dat bouers nou selfs oor naweke werk om die nodige afrondings soos ligskakelaars en deure in die gebou aan te bring.

“Laasweek is die plaveisel voor die gebou voltooi,” sê De Lange. “Die plaveisel van die ‘helipad’, waar ’n helikopter kan land buite die gebou, is tans onderweg. En die ligtoring bo op die gebou is amper klaar.”

Oraniërs sal opmerk dat hierdie toring nog net die glas in sy vensters benodig. “Hier sal ek of André Coetsee tipies staan om ’n helikopter aan te wys tydens landing op die ‘helipad’”

“Groot dele van die gebou binne is reeds klaar, hier en daar moet daar nog klein goedjies afgehandel word. Die meeste van die deure hang al. Dinge wat nou gedoen moet word is dinge soos die elektrisiteit wat gekoppel moet word en die beheerkamerskerms moet ingesit word. Hierdie werk is klein detail in vergelyking met hoe groot die gebou is en wat al alles gedoen is,” sê De Lange.

Die meubelment van die gebou is klaar aangekoop en sal aan mekaar gesit word by die gebou. “Ons hoop om die meubelment in Novembermaand te ontvang.”

Behuising vir snuffelhonde is agter die gebou aangebring, die dak is reeds op en daar sal eersdaags omheining aangebring word. “Op die oomblik gaan dit nog net Turbo wees wat die hokke gaan benut. Ons gaan nie noodwendig in die nabye toekoms nog honde kry nie, so hierdie sal ’n lekker speelplek vir Turbo wees,” sê De Lange.

285 comments

  1. Dit gaan n trotse oomblik wees as hierdie projek finaal afgehandel is. Groot stap vorentoe vir Orania veiligheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published.