dORA: JOU KAPITAAL IS NOU DIGITAAL

Die bekend-stelling van die dORA die afgelope week deur die Orania Sakekamer word as ’n reuse tree vorentoe beskryf vir die wyse waarop daar in Orania handel gedryf word. Die dORA was ’n geruime tyd in ’n toetsfase waar sommige verbruikers en enkele ondernemings die geleentheid gehad het om te kyk of die stelsel werk. Volgens die voorsitter van die Orania Sakekamer, Conrad Basson was daar aanvanklik rolspelers van buite Orania wat belangstelling getoon het in die ontwikkelling van ’n digitale weergawe van die Ora, maar dat daar nie iets van gekom het nie. “Ongeveer ’n jaar gelede het ons hande met die plaaslike Orania IT-groep geneem en ons het ’n splinternuwe konsep  ontwikkel wat nie op die voorgestelde tegnologie gebaseer was nie. Ons het dit binne ’n jaar van ’n konsep na ’n werklikheid geneem.”

Die primêre rolspelers was die Orania Sakekamer, die Orania IT-groep en Ruaan van Dyk wat die toepassing ontwerp het. Die Sakekamer is ook daarmee getaak om elke drie jaar die nuwe Ora-reeks bekend te stel en die dORA kan beskou word as ’n digitale voortsetting daarvan. Conrad sê die dORA het al die voordele van die papierweergawe met bykomende gerief. Daar is ook deur ’n hele paar weergawes gewerk om gebruikers-vriendelikheid te verseker. So kan jy byvoorbeeld begunstigdes in jou toepassing stoor wat beteken dat jy nie elke keer die begunstigde se besonderhede in die toepassing moet insleutel nie en jy kan ook jou transaksiegeskiedenis na dokumentvorm uitvoer vir verwerking.

Maar, sê Conrad, die toepassing gaan oor baie meer as blote gerief: “Dit is ’n tree nader aan vryheid en ekonomiese selfstandigheid. Hoe meer mense en ondernemings dit gebruik, hoe meer word daar handel met mekaar gedryf sonder enige transaksiekostes aan groot banke. Ons hou ook ons geld in die plaaslike ekonomie en daar vind kapitaalvorming plaas met die dORA wat, soos met die Ora, deur geld in die bank onderlê word.”

Hy wys ook daarop dat die dORA nie kriptogebaseer is of van blokkettingtegnologie gebruik maak nie. “Daardie tegnologie is nog baie jonk en dit sal baie duur wees om dit te beveilig. Ons was nie bereid om dit bekend te stel sonder die nodige veiligheidsmaatreëls nie en verder is dit primêr ’n gemeenskaps-ruilmiddel wat op Oraniërs gemik is.”

Daar is die afgelope jaar 2 500 transaksies op die platform uitgevoer ter waarde van R1,8 miljoen. En dít met R170 000 in die bank.

Die dORA is nou op Google Playstore beskikbaar. Sleutel “dORA Digitale Beursie” in die soektogspasie in.

19,076 comments